Canolafokus 127 – Sclerotinia stamvrot op canola in 2026

Canolafokus 127   Julie 2026

Waarskuwing: verrassende Sclerotinia Stamvrot op canola in 2026

Lizette Nowers & Piet Lombard, WKDL

Die 2026-groeiseisoen is tot dusver gekenmerk deur swaar mistige toestande in groot dele van die Wes-Kaap se canola-produserende streke. Sien Figuur 1 en 2 waarin die gemiddelde relatiewe humiditeit tydens die vroeë canola-seisoen vir 2023 tot 2026 met mekaar vergelyk word. Vir die Caledon area is dit duidelik dat 2026 meer humied was as in dieselfde periode van die vorige paar jare. By Langgewens Navorsingsplaas het die humiditeit ook skerp gestyg sedert die begin van Julie 2026. Soos ons almal bewus is, floreer Sclerotinia Stamvrot in nat toestande met 'n hoë relatiewe humiditeit en daarom was dit te wagte dat die siekte sal kop uitsteek tydens die blomfases wanneer die swam die plante infekteer via afgestorwe blomblare.

Wat egter nou as 'n groot verrassing kom, is dat die siekte in die Caledon- en Moorreesburg / Riebeeck-Kasteel-omgewings bespeur is op jong plante, selfs nog vóór die aanvang van die blomfase (sien fotos)!

Figuur 1: Gemiddelde relatiewe humiditeit tydens die vroeë seisoen (Caledon weerstasie)
Figuur 1 dui die gemiddelde relatiewe humiditeit aan by die Caledon weerstasie tydens die vroeë seisoen
Figuur 2: Gemiddelde relatiewe humiditeit tydens die vroeë seisoen (Langgewens weerstasie)
Figuur 1 dui die gemiddelde relatiewe humiditeit aan by die Langgewens weerstasie tydens die vroeë seisoen
Foto 1

Foto 1: Stamvrot op jong plant – Caledon (9 Julie 2026)

Foto 2

Foto 2: Stamvrot op jong plant – Caledon (9 Julie 2026)

Foto 3

Foto 3: Sclerotinia verrotting op jong plant – Moorreesburg/Riebeeck-Kasteel (10 Julie 2026)

Dit is wel bekend dat die swam gesonde plante, sonder die teenwoordigheid van dooie blomblare, kan infekteer (sien literatuurverwysing ¹), maar dit word wêreldwyd as 'n uitsonderlike verskynsel beskou.

Met die ontdekking van hierdie twee gevalle in beide die Overberg en die Swartland, kan daar afgelei word dat die teenwoordigheid van sclerotia uit vorige jare se aanplantings, tesame met die voortdurende nattigheid op die lande (vanweë veral mistige omstandighede) én die feit dat produsente gewoonlik nie voor blomtyd teen Sclerotinia spuit nie, kon gelei het tot hierdie vroeë infeksies. Die 2026-seisoen hou dus moontlik 'n hoër risiko as die vorige paar jare in vir Sclerotinia-infeksies en daarom hierdie dringende boodskap: spuit in 2026 eerder vroeër as later vir Sclerotinia!

Indien die kampe in die bogenoemde voorbeelde nou met teen-Sclerotinia swamdoder bespuit word, kan die middel moontlik die aktief-groeiende swam direk bereik en verhoed dat dit sclerotia vorm. Dit kan dus die opbou van potensiële inokulum vir die volgende paar jare verminder.

Wat staan produsente te doen?

  • Indien die produsent in ’n area is waar plante in 2026 aan lang periodes van vog op blare blootgestel is, moet daar voorkomende stappe geneem word.
  • Daar moet op die aanbevole stadium gespuit word, tensy daar voortydig (voor blomstadium) reeds siek plante teenwoordig is.
  • Wat is die optimum stadium, volgens literatuur, vir die spuit van Sclerotinia? Die optimale tyd vir toediening is wanneer die gewas tussen 20% en 30% blom. Die doel van die swamdoder is om vroeë blomblare teen infeksie te beskerm, goeie indringing van die swamdoder in die gewas se blaredak en op die onderste stingels en blare te verseker, en potensiële infeksieplekke teen vallende blomblare te beskerm (GRDC).
Figuur 3: Blomstadia van canola
(GRDC; Canola Council of Canada)
10% Blomstadia

10 blomme oop op hoofhalm

20% Blomstadia

14-16 oop op hoofhalm (voordat blomblare val)

30% Blomstadia

Tot 20 gevormde blomme en/of peule (ook afgespeende peule) op hoofhalm (blomblare het begin val)

50% Blomstadia

>20 blomme en/of peule op hoofhalm en sytakke (volblomstadium)

  • Spuit slegs geregistreerde produkte teen aanbevole dosis.
  • 'n Tweede bespuiting word soms gedoen waar plante lank blom en aan vog blootgestel is. Hier is veral die Overberg/Suid-Kaap area van toepassing. In 2026 is die canola in die Swartland baie vroeg geplant en kan daar verwag word dat die plante langer sal blom as normaal. Droogte, hitte en dagliglengte verkort gewoonlik die tydperk van blom.

'n Goeie riglyn vir wanneer om 'n tweede bespuiting te doen, is 12-14 dae na die eerste bespuiting, maar nie later as die 50% blomstadium. Die langswerkendheid van elke produk moet liefs in oorleg met die betrokke agente bespreek word.

Literatuur

¹ Lane D, Denton-Giles M, Derbyshire M, et al. Abiotic conditions governing the myceliogenic germination of Sclerotinia sclerotiorum allowing the basal infection of Brassica napus., 10: 395-400.

DOWNLOAD ISSUE


Enquiries / Navrae

Directorate Plant Sciences, Department of Agriculture Western Cape
Direktoraat Plant Wetenskappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Private Bag/Privaatsak X1, Elsenburg 7607   T. 021 808 5321   E. piet.lombard@westerncape.gov.za

Editors / Redaksie

PJA Lombard   J Bruwer   Franco le Roux
Sponsored by the Protein Research Foundation
Geborg deur die Proteïennavorsingstigting

Subscribe to this newsletter